Saturday, 25 June 2011

Suid-Afrikaanse vers en wyn in die winternag...





Eensaamheid

My vuurtjie en ek is op wag -
my vuurtjie en ek alleen;
die awend-ster
wink al van ver,
en die velde slaap omheen.

En stadigies sterwe die dag,
soos een in sy armoed verlaat,
ongesien, ongeag,
sonder suggie of lag,
waar niemand van weet of van praat.

Nou bly die lug alom
in stil aanbidding staan -
geen tampende bel
wat die ure tel:
net die sterre wat kom en gaan.

Die osse, met koppe gebuie,
herkoue nog stil in die nag,
tot één vir één buk
en gaan lê by sy juk,
met 'n sug, ná die trek van die dag.

My vuurtjie is al wat nog leef
in die eindeloos ruim met my,
en sy stemmetjie dwaal
soos 'n deuntjie wat draal
om dae lank verby,

om jonkheids blye môre
en laggies lank verlewe.
Dan voel ek 'n traan
in my oë staan
en ek fluister: "Heer, vergewe!"

Die slapende velde lê wyd,
en wyer die donker see,
wat my vuurtjie en my
vanawned skei
van die wêreld se vreug en wee;

ek weet daar's fees vanaand
in menig verligte saal,
maar geeneen wat my mis
by die dans en die dis -
'n balling vergeet en verdwaal.

(Jan F.E Celliers (1865-1940)
A.P Brink. 2000. Groot Verseboek. Tafelberg-Uitgewers. Kaapstad

No comments:

Post a Comment